Grondvrugbaarheidsbestuur vir mango produksie
By Theo BekkerTags: mango , Grond , Vrugbaarheid
Others articles in: Orchard Management
Grondvrugbaarheidsbestuur vir mango produksie
Gerhard Nortjé
Wanneer dit verstaan word dat grond ʼn lewende, dinamiese sisteem is – ʼn ekosisteem – word bestuur vir volhoubare produksie ʼn geïntegreerde, geheel-sisteem benadering. Dit raak belangrik om te fokus op die prosesse wat die onderhouding van ʼn gesonde, dinamiese, en produktiewe sisteem bevorder. Vrugbaarheidsbestuur is gebaseer op ons kennis van voedingselement-siklusse, organiese materiaal ontwikkeling, en die balans tussen die lewende en nie-lewende komponente van die grond (ekologie). Goeie grondbestuur speel ʼn belangrike deel in die algehele volhoubaarheid van ʼn mango produksiesisteem.
Onderhouding of die verbetering van die vrugbaarheidsstatus van grond is maar een van baie stappe wat belangrik is vir die volhoubaarheid van maksimum produktiwiteit in mango boorde. Maar anders as ander faktore wat produktiwiteit bepaal is vrugbaarheid onderhewig aan die mens se beheer. Die regstelling van ernstige voedingswanbalanse is nie net bevredigend nie, maar dit is ʼn fundamentele vereiste in die meeste suksesvolle boerdery operasies.
Vrugbaarheidsbestuur is die beheer van gewasopbrengs- en kwaliteit deur middel van aanpassings in die voedingstatus van die grond. Dit behels die bepaling van spesifieke voedingsbehoeftes en die seleksie en behoorlike toediening van bemestingstowwe, verbeteraars, en ander bymiddels om voedingstekorte, wanbalanse, en in sommige omstandighede, toksisiteite te voorkom. Goeie vrugbaarheidsbestuur het die beste impak waar al die faktore vir plantegroei optimaal is.
Voedingselement-behoeftes van plante word kwantitatief beoordeel deur grond- en plantweefsel-analises. Hulpmiddels in die evaluering sluit in: waarneming van tekens van voedingselement tekorte- of oormate in plante, en die plant se reaksie op toegediende bemesting. Die keuse van bemesting word dan gebaseer op spesifieke voedingselement behoeftes en kostes. Kostes word die beste geëvalueer op die basis van prys per eenheidsmassa voedingselement. Die tyd en metode van toediening is belangrik om maksimum voordeel uit die bemesting te kry.
Mis, plantreste, en ʼn vesrskeidenheid organiese materiale kan toegedien word om die grond se vrugbaarheidsstatus te verbeter, terwyl dit ook die bewerkbaarheid van die grond verbeter. Die gebruik van grondverbeteraars (byvoorbeel kalk), veral dié wat oormatige suurheid of alkaliniteit veroorsaak, stel terselfdertyd ook sekere voedingselement-tekorte en plant toksisiteite reg.
ʼn Belangrike oorweging in vrugbaarheidsbestuur is die kwaliteit van die produk vir gebruik deur mens en dier. Kwaliteit word gemanifesteer in die voedingswaarde van die produk (mango), insluitende die produk se inhoud van essensiële minerale en andere soos vitamiene, proteiën, koolhidrate, en vessel. Sommige van die elemente teenwoordig in plante is belangrik vir die mens maar nie vir die plant self nie.
Die maksimum voordeel word uit ʼn bemestingsprogram verkry slegs in samewerking met ander behandelings of praktyke wat die mees geskikte toestande verseker vir plantegroei. Hierdie sluit in: die gebruik van aangepaste, hoë produserende gewas variëteite, en waar nodig die regstel van probleme as gevolg van hoë sout of swak dreinering, die beheer van siektes en plae, vogbewaring, en die vermindering van grondverlies deur erosie. As bogenoemde beperkende faktore nie aangespreek word nie, word die effektiwiteit van die bemestingsprogram negatief beïnvloed.
ʼn Goed beplande bemestingsprogram is gebaseer op drie fundamentele vereistes: (1) die gebruik van die korrekte en kwaliteit bemestingstowwe, (2) die gebruik van toedieningsmetodes wat optimale verbuik van die bemesting deur die plant verseker, en (3) die toediening van bemesting teen die regte hoeveelhede vir die plant en groeitoestande. Faktore wat die bemestingsprogram mag beïnvloed sluit in: (1) die gebruik van diere- en groenbemesting, (2) die gewasopeenvolging, as rotasies toegepas word, en (3) die beheer van die pH, wat belangrik is vir die beskikbaarheid van ʼn aantal belangrike voedingselemente.
